100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Blue Moon-konsertreeks skop af

Written by on November 20, 2020

Die legendariese Blue Moon hou vanaf Vrydag vir die eerste keer in ‘n jaar weer konsert.
Van jou gunsteling-kunstenaars tree tot 12 Desember elke Vrydag en Saterdag hier op.
Die Blue Moon-konsertreeks skop af met Jay en Lianie en Nicholis Louw – en Robbie Wessels saam met Nádine Saterdagaand.
Conrad Jamneck vertel hulle hoop dat die konserte nuwe lewe in dié asemrowende venue sal blaas.

Jamneck voeg by dat dit uiteraard ook ‘n huldeblyk is aan Anthony Bumstead, wat Blue Moon 20 jaar gelede begin het. Hy is in Augustus vanjaar dood.
“Dit was Anthony se droom om musiek daar te hê en musiek te laat groei en die gemeenskap ‘n plek te gee waarheen hulle wou gaan.”
Jamneck hou die laaste paar jaar die WoodCrock-fees daar. Buiten dit het net The Narrow verlede Desember daar gespeel as deel van hul landswye toer.

Die ligging en klank is besonders, voeg hy by. Almal het al daar gespeel. Dít is Bumstead se nalatenskap.
“Waar begin ‘n mens?” vra Jamneck. Springbok Nude Girls, DNA Strings, Black Cat Bones, van Parlotones se eerste vertonings, Mean Mr Mustard, die Akkedis-broers (die eerste groep wat ooit daar gespeel het), Valiant Swart, Piet Botha, Albert Frost en Karen Zoid toe hulle nog “kinders” was, al die jare wat Innibos konserte daar aangebied het…
“Ons hoop hierdie blaas nuwe asem in Blue Moon. Anthony het dit alles gebou om vir ewig te hou. Dit was sy droom: daar moet musiek wees.”
Henré Bornman (regisseur) vertel hy en Johan Ferreira (beligtingsingenieur) en Murray Lubbe (klankingenieur) het die 2020 Blue Moon-konsertreeks bedink toe Innibos gekanselleer is. Al drie werk jaarliks aan Innibos se groot konserte op die hoofverhoog.
“Ons het geïdentifiseer dat hier nogal ‘n mark daarvoor is in Nelspruit,” sê Bornman.
Hulle het aan die werk gespring, en kon binne drie weke die konsertreeks reël. “Ons ken die kunstenaars. Hulle was opgewonde.”
Dit was nie ‘n maklike jaar in die vermaaklikheidsbedryf nie. “Ons was die eerste een wat toegemaak het, en is die laaste wat oopmaak.
“Baie van die kunstenaars het al in die verlede by Blue Moon opgetree. Ek dink was ook ‘n trekpleister.”
Die idee was ook dat dit kindervriendelik moet wees. “Verskeie venues in die dorp bring kunstenaars, maar niemand is kindervriendelik nie.”
Jamneck sluit af, dat hy in die besonder daarna uitsien om, soos altyd, mense se gesigte te sien die eerste keer wanneer hulle by Blue Moon aankom. “Dit is net so spesiaal.”
Die Blue Moon-konsertreeks bied ‘n verskeidenheid van musiek.

Die program:
Vrydag 20 November – Jay & Lianie
Saterdag 21 November – Robbie Wessels
Vrydag 27 November – Ricus Nel
Saterdag 28 November – Kurt Darren
Vrydag 4 Desember – Karlien van Jaarsveld
Saterdag 5 Desember – Bok van Blerk
Vrydag 11 Desember – Die Heuwels Fantasties
Saterdag 12 Desember – Appel
Elke konsert sluit ook ‘n bekende gaskunstenaar in.

Vandag s’n is Nicholis Louw en Saterdagaand is dit Nádine.
Verder is die berugte pad na Blue Moon volgens die organiseerders tans in ‘n uitstekende kondisie, en sal dit elke Donderdag voor die konserte weer geskraap word.
Die hele fees is ook familievriendelik. Daar is geriewe om doeke om te ruil en Slush Puppie’s vir die kinders.
Kaartjies is R180 en te kry by itickets.co.za.
‘n Paar sal ook by die hekke te koop wees, maar net 500 mense kan enige vertoning bywoon weens inperkingsregulasies.
Om ‘n BBP-tafel vir 10 te bespreek, kontak Alison Linde by 082-460-3855.
Volg BlueMoon2020nelspruit op Facebook vir meer inligting.

*Radio Laeveld sal elke dag vanaf die konserte uitsaai van 17:00 tot 19:00.


×